Agri Limpopo denounces Land Reform Report, supports Agri SA on the Advisory Panel on

Agricultural Market Viewpoint 8 April 2019
April 8, 2019
PANEL REPORT RAISES RED FLAGS FOR AGRICULTURE
July 28, 2019

Agri Limpopo denounces Land Reform Report, supports Agri SA on the Advisory Panel on

Agtergrond:

Die Adviespaneel oor Grondhervorming is in 2018 deur President Cyril Ramaphosa aangestel is om hom en die Inter-ministeriële Komitee op Grondhervorming te adviseer oor die pad vorentoe met grondhervorming in sy breedste vorm asook oor die kwessie van vergoeding. Die Paneel se verslag dek al die grondhervormingsprogramme en bevat aanbevelings oor maatreëls vir stedelike en landelike grondhervorming. Die verslag spreek ook aspekte soos verblyfreg in kommunale gebiede, verblyfsekerheid op plase, onteiening, boerdery-hervorming, die vraag na grond en keuring van begunstigdes, aan.

Kontroversiële aanbevelings:

Die paneel se aanbevelings is omvattend en in sommige gevalle kontroversieel. Agri SA kan nie kontroversiële aanbevelings soos die volgende steun nie:

  • Wysiging van artikel 25 van die Grondwet om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding, ‘n moratorium op plaasuitsettings, asook die skrap van die 1913-afsnydatum vir restitusie-eise.
  • ‘n Vergoedingsbeleid, wat neerkom op ‘n vaste formule vir vergoeding aan huidige grondeienaars: Die voorstel is dat voorsiening gemaak word vir ‘n vergoedingspektrum van nul tot minimale tot substansiële tot markverwante vergoeding. Daar word ook voorgestel dat diegene wat grond geërf het anders behandel moet word as dié wat hul grond ná 1994 aangekoop het.
  • Gedwonge vestiging van plaasbewoners op plase.
  • Dat privaat titel tot grond nie in kommunale gebiede toegelaat moet word nie;
  • Oorweging van ‘n grondbelasting;
  • Grondplafonne;
  • ‘n Voorstel dat grond op munisipale vlak geïdentifiseer moet word vir herverspreiding gebaseer op grondbehoeftes en dat die huidige eienaar ‘n geleentheid gegun sal word om die grond te skenk, met die staat te onderhandel of onteiening in die gesig staar;
  • Hervorming van watertoedelings waar waterregte aan kleinskaalse boere hertoegedeel word;
  • Regulering van grondbesit deur buitelanders.

Ander aanbevelings:

 Die Paneel beveel aan dat ‘n nuwe Witskrif-proses gevolg word. Terwyl Agri SA altyd sal deelneem aan alle beleidsprosesse wat hul lede raak, is sodanige prosesse tydrowend en vereis aansienlike hulpbronne, ook in terme van belastingbetalers se geld. Vanuit Agri SA se oogpunt – soos uiteengesit in die Hoëvlak-paneel se verslag oor sleutelwetgewing – hou die hoof probleme geensins verband met beleid nie maar kan eerder toegeskryf word aan swak implementering, onvoldoende begroting en korrupsie. Hierdie is die aspekte wat prioriteitsfokus en -aandag verg.

  • ‘n Nasionale Grondhervormings raamwerk wetsontwerp: Hoewel daar meriete mag wees vir die formulering van wetgewing oor herverspreiding, is dit nie heeltemal duidelik watter aspekte sodanige wetsontwerp sal aanspreek en hoe dit gedoen sal word nie. Daar is aanduidings in die verslag dat hierdie wetgewing moontlik gebruik kan word om grond wat deur die munisipaliteit geïdentifiseer is geteiken en op gedwonge wyse bekom sal word vir herverspreidingsdoeleindes. Dit kom neer op ‘n uitnodiging vir korrupte praktyk en magsmisbruik. Tesame met voorstelle vir onteiening sonder vergoeding of teen minimale vergoeding, sal dit die onsekerheid in boerderygebiede vererger en verder bydra tot desinvestering in die landbousektor.
  • Onderverdeling van grond: Terwyl Agri SA saamstem dat sekere onderverdeling nodig mag wees, is hy van mening dat grootskaalse onderverdeling van ‘n skaars hulpbron in die afwesigheid van wetgewing om hoë-gehalte landbougrond te beskerm, gevaarlik kan wees vir toekomstige voedselsekerheid in ons land.
  • Grondskenkings: Agri SA het gewaarsku dat die getal boere wat in ‘n posisie is om grond te skenk nie oorskat moet word nie. Baie boere sukkel om te oorleef en ekonomie van skaal is ‘n meganisme vir hierdie doel. Daar is ook tans geen ware insentiewe in plek wat boere sal aanmoedig om grond te skenk nie.
  • Hertoedeling van waterregte: Hierdie is eintlik ‘n afsonderlike debat. Agri SA moet beklemtoon dat water ‘n skaars hulpbron in Suid-Afrika is en dat kommersiële besproeiingsboere ‘n geweldige bydrae tot voedselproduksie en uitvoerverdienstes lewer.
  • Registreerbare regte vir plaasbewoners: Die verslag bevat aanbevelings wat blykbaar neerkom op die bedoeling om verblyfregte te registreer vir mense wat op kommersiële plase woon en om dan daardie regte af te dwing in kompetisie met die regte van die huidige eienaar. Dit herinner aan die Grondverblyfswetsontwerp van 2010 wat destyds uiters kontroversieel was.
  • Aanbevelings wat verwelkom word, sluit die volgende in:
    • Maatreëls moet ingestel word om korrupsie uit te skakel;
    • ‘n Grondoudit van openbare en privaat grond, met inagneming van die Agri SA / ADS/ Landbouweekblad-ouditresultate;
    • Vestiging van ‘n Grondhervormingsfonds;
    • Deursigtige keuring van begunstigdes;
    • Versterking van die kapasiteit van die Restitusiekommissie om die verwerking van eise te bespoedig;
    • Die ontwikkeling van uitkoms-aanduiders vir die monitering en evaluering van suksesvolle grondhervorming.

Die alternatiewe verslag:

 Agri SA het ook die alternatiewe verslag wat deur Dan Kriek en Nick Serfontein ingedien is bestudeer. Hierdie verslag fokus op die rol wat die vrye mark en privaat sektor in grondhervorming kan speel en bevat praktiese voorstelle oor hoe grondhervorming in die landbou op ‘n volhoubare wyse bewerkstellig kan word. Die belangrike elemente van die alternatiewe verslag is soos volg:

  • ‘n Grondbewaarplek;
  • ‘n Grondhervormingsfonds;
  • Gesamentlike ondernemings;
  • Ondersteuning vir nuwe boere;
  • Aansporings vir deelname deur kommersiële boere;
  • ‘n Sosiale akkoord
  • Seleksie van begunstigdes

Agri SA ondersteun die beginsels van hierdie voorstelle in die breë. Ons is sterk van mening dat grondhervorming in boerderygebiede ‘n groot stap vorentoe sal neem met die vestiging van ‘n landbou-ontwikkelingsagentskap waar die privaat sektor ‘n leidende rol kan speel as drywer en finansierder van grondhervorming. Ons glo ook dat ons moet voortbou op bestaande beste praktyk soos uitgewys tydens die Bela-Bela-beraad verlede jaar.

Die pad vorentoe

AgriSA is bekommerd oor verskeie aspekte van die verslag en veral die kontroversiële aanbevelings soos hierbo uitgewys. Ons is van mening dat in plaas meer tydrowende konsultasieprosesse, ons eerder moet fokus op samewerking met die oog op die implementering van sinvolle projekte. Indien hierdie konsultasieprosesse egter wel ontvou, sal ons ten volle daaraan deelneem en verseker dat die ekonomiese realiteite wat nog nie voldoende in die verslag aangespreek is nie, ter tafel gelê word. Intussen sal Agri SA volstoom voortgaan met sy vele transformasie-inisiatiewe en die vestiging van ‘n Landbou-ontwikkelingsfonds.

 

 

 

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!