Agri Securitas Trust Fonds Mediaverklaring

Agri Tuinplaas Oesfees – 13 Mei 2017
May 2, 2017
Agbiz Morning Market Viewpoint on Agri-Commodities: 03 May 2017.
May 3, 2017

Agri Securitas Trust Fonds Mediaverklaring

Plaaswerker erg getraumatiseerd

“’n Plaaswerker en sy vrou is so erg getraumatiseerd na ‘n plaasaanval dat hulle nie meer op die plaas wil woon nie, daarom het die Agri Securitas Trustfonds, wat oor jare traumaberading aan boerderygemeenskappe verskaf, dié plaaswerkers bygestaan met traumaberading” sê Japie Grobler, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds.

Volgens Grobler, “speel plaaswerkers ‘n belangrike rol in die daaglikse aktiwiteite van ‘n plaas en moet ons as boerderygemeenskap toesien dat ons hulle ook bystaan wanneer hulle erge trauma na ‘n plaasaanval ervaar.   Ons is bly dat ons op die wyse ook ‘n bydrae kon maak om dié mense se lewens te help heelmaak”. 

Die voorval het op ‘n plaas in die Hertzogville-distrik in die Vrystaat voorgekom toe veediewe in die middernagtelike ure op die boer se voerkraalbesigheid toegeslaan het.  In die proses om ondersoek in te stel het die boer geweerskote in die lug afgevuur, die polisie is ontbied maar geen diewe kon in die omgewing van die voerkraal opgemerk word nie.  Intussen het die plaaswerker en sy vrou by die boer aangesluit om hom te help.  Aangesien geen diewe opgemerk is nie, is almal terug na hulle wonings. 

Met hulle terugkeer is die plaaswerker en sy vrou deur vier verdagtes by hulle woning ingewag en aangeval.  Die plaaswerker is verskeie kere met ‘n mes gesteek en sy vrou erg aangerand.  Die boer het hulle na die plaaslike hospitaal gehaas waar hulle die nodige behandeling ontvang het.

Volgens Vrystaat Landbou was daar die jaar reeds twaalf aanvalle op plaaswerkers, met een moord.  Die werkers   is erg aangerand, hulle raak toenemend bang om op plase te woon en wil eerder na die dorpe verhuis.  Dit bied verdere uitdagings vir die effektiewe bestuur van die plaas.  “Aanvalle op boere en plaaswerkers behoort op alle vlakke van die samelewing ten sterkste veroordeel te word aangesien die land afhanklik is van sy boerderygemeenskap vir die daaglikse kos wat op huishoudings se tafels beskikbaar is en dat die land nog selfvoorsienend is in sy voedselbehoeftes” sê Grobler ten slotte. 

Klik hier om meer te lees.

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!