Asuf Mediaverklaring: Landelike veiligheid in die feesseisoen

Agbiz/IDC Agribusiness Confidence Index declined by 5 points
December 4, 2017
Soybean planting activity making notable progress
December 5, 2017

Asuf Mediaverklaring: Landelike veiligheid in die feesseisoen

Landelike veiligheid moet in die feesseisoen en daarna ondersteun word

4 Desember 2017

Alle belanghebbendes in die landbousektor moet saamwerk om die onaanvaarbare vlak van misdaad wat plaasgemeenskappe ervaar aan te spreek, veral gedurende die feesseisoen. Op 2 November het ‘n groep bekommerde belanghebbendes in Pretoria byeen gekom om idees te deel oor hoe om landelike veiligheid te bewerkstellig. Tydens hierdie vergadering is die Agri Sector Unity Forum (Asuf) versoek om `n inklusiewe subkomitee op die been te bring om misdaadbestryding tussen boeregemeenskappe, diensverskaffers en ander belanghebbendes te koördineer. Asuf is `n inklusiewe, verteenwoordigende liggaam wat bestaan uit Agri SA, die African Farmers’ Union (Afasa), die National African Farmers’ Union (Nafu) en die TLU SA.

 Daarom het Asuf onlangs in Centurion vergader om die veiligheid van alle boere, plaaswerkers en landelike gemeenskappe te bespreek. Japie Grobler, voorsitter van Asuf, het `n beroep gedoen op alle boere en plaaswerkers om saam met die polisie en hul bure te werk om `n einde te bring aan misdaad en `n veilige omgewing vir almal te verseker. Grobler het ook `n beroep gedoen op die publiek om geldelike skenkings aan die Agri Securitas-trustfonds te doen om dié fonds te steun in sy pogings om boerderygemeenskappe te beveilig.

 Boere-unies het `n behoefte aan kameras, hommeltuie, tweerigtingradio’s en ander tegnologie om die veiligheid van boerderygemeenskappe te bevorder. Oor die jare heen het Agri Securitas `n belangrike rol gespeel in `n reeks praktiese ingrypings om die veiligheid van boere en plaaswerkers te verbeter.

 “Misdadigers hou `n geweldige bedreiging in vir voedselsekerheid en uiteindelik ook sosio-ekonomiese stabiliteit,” sê Grobler. “Ekstra voorsorg, paraatheid en netwerke op grondvlak tussen boere onder mekaar, asook met die polisie, is dus noodsaaklik – veral gedurende die feesseisoen.”

 Grobler prys die landelike veiligheidsvennootskappe tussen die onderskeie georganiseerde landbou-organisasies in sekere provinsies en hul pogings om misdaad te bekamp en misdadigers aan te keer. Hy het ook die pogings van `n wye verskeidenheid  belanghebbendes om `n veilige omgewing binne die gereg te bewerkstellig, verwelkom.

 Ongeag die grootte van hul boerdery, ras of geslag, word boere en plaaswerkers voortdurend geteken deur gewetenlose misdadigers. Misdadigers het geen respek vir die mense- en grondwetlike regte van boere en hul werkers en hul bydrae tot voedselsekerheid, werkskepping en die ekonomiese bevordering van plaaslike gemeenskappe nie.

 Misdaadvlakke op plase in Suid-Afrika is bó internasionale gemiddeldes. Die direkte en indirekte koste van misdaad vir individue, gesinne, woonbuurte, sake-ondernemings, die regering en die ekonomie hou `n ernstige bedreiging in vir voedselsekerheid en sosio-ekonomiese stabiliteit. Dit veroorsaak ook aansienlike finansiële verlies, verbrokkeling van vertrouensverhoudinge tussen plaaslike gemeenskappe en wakker vrees aan. Slagoffers van misdaad moet ook met erge trauma en langdurige fisiese en sielkundige letsels saamleef.

 Die situasie het onhoudbaar geword. Misdadigers word toenemend roekeloser. Hulle teiken en steel nie net die vee, plaasprodukte en infrastruktuur van kommersiële, opkomende en bestaansboere, maar martel en vermoor ook boere, plaaswerkers en hul gesinslede. In sommige gevalle word vee wreedaardig vermink terwyl hulle nog lewe.

 Asuf beplan om mettertyd met die polisieminister en kabinetslede te vergader en sal die publiek inlig oor die uitkoms van dié vergaderings en die aksies wat daarop gaan volg.

Uitgereik deur Agri SA, Direktoraat:  Korporatiewe Skakeling namens Asuf

Navrae

Mnr Japie Grobler, Voorsitter, Asuf, 0828258018

Christo van der Rheede, Sekretariaat Asuf, 012-643 3400 of 083 380 3492

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!