Mediaverklaring: Grond – dis nie sommer net vir vat nie…

Agbiz Morning Market Viewpoint on Agri-Commodities: 01 February 2018
February 1, 2018
South African Agricultural Commodities Weekly Wrap: 02 February 2018
February 2, 2018

Mediaverklaring: Grond – dis nie sommer net vir vat nie…

Adjunk-minister, Mcebisi Skwatsha het, na bewering gister tydens ‘n vergadering van die Portefeuljekomitee op Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, gesê dat die ANC in Maart ‘n konferensie oor onteiening sonder vergoeding sal hou en dat onteiening sonder vergoeding daarna deur alle relevante staatsdepartemente geïmplementeer sal word.  Hy is aangehaal om te sê dat die ANC sal bepaal wie se grond hulle sal vat en hoe hulle dit sal doen.  Dit is egter nie sommer net vir vat nie, het Mnr Ernest Pringle, voorsitter van Agri SA se grond sentrum van uitnemendheid gesê. Dit is ook nie ‘n besluit wat die ANC op hulle eie kan neem en dan eenvoudig begin uitvoer nie. 

Geen onteiening sonder vergoeding kan plaasvind tensy die Grondwet gewysig word nie, het Pringle gesê.  En dit sal ‘n tydrowende proses wees waaroor daar omvattend gekonsulteer sal moet word en die nodige meerderheid van stemme in die Parlement ten gunste daarvan uitgebring moet word.  Privaat eiendomsreg is ‘n internasionaal erkende beginsel, wat beskerm word deur die meeste internasionale menseregte-handveste, byvoorbeeld artikel 17 van die Verenigde Nasies se Universele Verklaring van Menseregte. Die dreigemente van onteiening sonder vergoeding bots ook lynreg met beleid van belangrike instansies soos die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds. Die ekonomiese gevolge van grond “vat”, sal katastrofies wees, soos wat verskeie ekonome reeds uitgewys het. Die arm mense sal die swaarste deur die gevolge van so onverantwoordelike stap getref word, het Pringle bygevoeg.

“Hierdie tipe uitlatings deur politici, speel in die hand van opportuniste wat dit graag as verskoning wil gebruik om grond te beset.  Dit is uiters gevaarlik.”

Pringle het ook daarop gewys dat geweldige verwagtinge geskep word rondom die kwessie van onteiening sonder vergoeding, wat ook polities kan boemerang.  “Het enige-iemand al gedink, wat gaan gebeur nadat grond gevat is?  Aan wie gaan dit gegee word, wie gaan toegang geweier word en waar gaan die kapasiteit skielik vandaan kom om die mense wat die grond kry te ondersteun om dit produktief te gebruik”?”, het hy gevra.

Agri SA doen ‘n beroep op Mnr Ramaphosa om die organisasie en die publiek so gou moontlik in sy vertroue te neem oor presies wat beoog word.  Agri SA het nog geen uitnodiging ontvang om ‘n konferensie in Maart hieroor by te woon nie.  Agri SA is ‘n kritiese rolspeler in hierdie debat en sal graag met die ANC leierskap hieroor debat wil voer, het Pringle gesê.

Uitgereik deur Agri SA, Direktoraat:  Korporatiewe Skakeling

Navrae

Ernest Pringle, Voorsitter van Agri SA se Sentrum Van Uitnemendheid oor Grondsake, 087 803 5699

Annelize Crosby, Hoof:  Grondsake, Agri SA, 082 388 0017

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!