Agri SA Mediaverklaring: Weldoener betaal met sy lewe

FAW on sunflowers: Farmers should stay vigilant, but not panic
March 4, 2018
Soil moisture has improved significantly across the maize belt
March 6, 2018

Agri SA Mediaverklaring: Weldoener betaal met sy lewe

5 Maart 2018

 

‘n Bekende boer, weldoener en gemeenskapsleier, Dirk Steenkamp is vroeg Sondagoggend op sy plaas in die Vredefort-omgewing vermoor. “Moorde en ander geweldsmisdade waaronder die landbougemeenskap voortdurend gebuk gaan spreek van ‘n gemeenskap waarin daar ernstige tekortkominge met die uitleef van waardes en die respek vir lewe is”, sê Dan Kriek, president van Agri SA.

Steenkamp was in die gemeenskap bekend as ‘n weldoener wat nooit gehuiwer het om behoeftige mense te help nie. Die Steenkamp moord het weereens die fokus geplaas op die sinneloosheid en lafhartigheid van die daad, asook die kwesbaarheid van boere en plaaswerkers wat in die buitelug hulle werk moet doen in belang van die land. Die moord het onmeetbare hartseer en woede vir sy familie, plaaswerkers en die gemeenskap tot gevolg. Kriek het namens Agri SA sy meegevoel met die Steenkamp-familie uitgespreek en ‘n beroep op die polisie gedoen om die aanvallers so spoedig moontlik aan te keer.

“Die onverantwoordelike en roekelose uitsprake oor die grondkwessie wat op ‘n gereelde basis in die media gerapporteer word, lei tot die polarisasie van mense en gemeenskappe, asook die aanhitsing van geweld teenoor ‘n sekere groep van die samelewing. Die tipe uitsprake hoort nie tuis in ‘n samelewing waarin onderlinge respek en verdraagsaamheid noodsaaklik is vir nasiebou en stabiliteit nie”, sê Kriek.

Kriek sê verder dat, “ongekwalifiseerde uitsprake oor grond katastrofies vir landbou-ontwikkeling en verdere belegging in die landbou is, veral omdat dit op ongegronde en verkeerde aannames gebaseer word. Hierdie uitsprake kan deur sekere individue vertolk word as ‘n regverdiging om lede van die boerderygemeenskap aan te val en te vermoor”.

“Ons glo dat daar nog genoegsame verbintenisse tot die handhawing van die beginsels van die Grondwet in die regering is om toe te sien dat landbou steeds sy regmatige plek in die ekonomie sal behou, werk te skep en toe te sien dat die landbou steeds voldoen aan die beginsel van voedselsekerheid”, sê Kriek.

Kriek het ‘n beroep gedoen op landbougemeenskappe om hulle plaaslike veiligheidstrukture te ondersteun en in gemeenskapsverband met die polisie saam te werk om hulle eie paraatheid op te skerp. Geen beskermingsmaatreëls is egter ‘n waarborg dat ‘n plaasaanval nie sal plaasvind nie, maar dit kan die aanval vertraag en inwoners ‘n kans gee om noodmaatreëls in werking te stel.

Do NOT follow this link or you will be banned from the site!